Leerproses

Die proses waardeur 'n verandering in gedragsmoontlikhede plaasvind as gevolg van 'n ervaring, word die leerproses genoem. Gedragsmoontlikhede is alle moontlike maniere waarop handelinge uitgevoer kan word, terwyl ervaring die ondervinding is wat opgedoen word deur opvoeding, opleiding of waarneming. Leer kan ook slaan op die aanleer van motoriese vaardighede of die aanleer van leerstof waarby die geheue betrokke is.

Talle sielkundiges het uiteenlopende teorieë oor die leerproses geformuleer, maar die teorieë wat oor kondisionering handel, is oor die algemeen die bekendste. Die Russiese fisioloog I.P. Pavlov het eksperimente met honde gedoen en sy teorie staan as klassieke kondisionering bekend. B.F. Skinner het weer veral met rotte en duiwe proefnemings gedoen en sy teorie staan as operante kondisionering bekend. Afgesien van kondisionering is daar ook ander vorme van leer, soos die probeer-en-trefmetode, gedragsontwikkeling deur modellering en leer deur insig.

Kondisionering as leerproses word dikwels in die praktyk toegepas, veral in geprogrammeerde onderrig, wat op sigself ʼn leermiddel is. Ander leermiddels, soos veral boeke, speel in huidige onderwysstelsels egter nog 'n veel belangriker rol as geprogrammeerde onderrig. Sekere faktore soos die oordrag van leerstof, leerintensie, motivering, aktiewe leer, leermetodes, die verspreiding van leertyd, inhoud en organisasie van leerstof, ouderdom, ensovoorts, oefen 'n groot invloed op die leerproses uit. Indien daar versteurings in die normale verloop van die leerproses is, kan leerprobleme ontstaan.


Developed by StudentB